Mielie en Pampoenkoekies met ’n Soetrissie Salsa

Genoeg vir: 6-8 mense
Bereidingstyd: 1 uur
Gaarmaaktyd: 20 minute

Bestanddele:

2 Vars mielies
75ml Sonneblomolie
1 Bossie sprietuie, gesnipper
1 Rooi brandrissie, ontpit en gekap (opsioneel)
2,5ml Rooipeper
2,5ml Fyn wonderpeper
Sap van 1 suurlemoen
250g Feta
300g Pampoen, in die oond sag gebak
2 Groot eiers, geskei
120ml Melk
70g (100ml) Koekmeel
2,5ml Bakpoeier
50g (125ml) Gruyère-kaas, gerasper
15g (1⁄2 pakkie) Vars koljander-blare, gekap
Sonneblomolie vir diepvetbraai

Metode:

  • Sny die mieliepitte van die stronke af. Verhit die sonneblomolie in ’n groot pan en soteer die mielies saam met die sprietuie en brandrissie (as jy dit gebruik) tot sag en effens verkleur.
  • Gooi die ander speserye by en braai vir nog twee tot drie minute voordat jy dit van die plaat afhaal.
  • Laat afkoel en gooi dan die suurlemoensap by.
  • Meng die res van die bestanddele (behalwe die eierwitte en sonneblomolie) en geur na smaak.
  • Voeg die afgekoelde mieliemengsel by die beslag.
  • Klits die eierwitte in ’n aparte mengbak saam met ’n knippie sout totdat dit stywe punte maak.
  • Vou dit versigtig in die beslag.
  • Verhit ’n dun lagie olie oor medium hitte in ’n groot pan en braai eetlepels vol van die beslag daarin. Druk dit met die agterkant van ’n lepel platter. Braai vir omtrent vier minute aan elke kant óf tot goudbruin en deurgaar.
  • Garneer die poffertjies met vars kruie en sit dit warm of by kamertemperatuur voor met salsa (resep hieronder). Jy kan ook nog feta en ’n bietjie paprika bo-oor sprinkel.

Rooisoetrissie Salsa:

Bestanddele:

15 ml sonneblomolie
Halwe Ui, gekap
3 Gesnipperde Sprietuie
5 ml Wonderpeper
2.5 ml Fyn Kaneel
1 Knoffelhuisie, fyngedruk
1 Groen Brandrissie, gekap
30 g (30 ml) Vars gekapte gemmer
40 ml Bruinsuiker
1 Rooi soetrissie, gekap
2 Pruimtamaties, gekap
75 ml Wit asyn

Metode:

  • Verhit sonneblomolie in ’n kastrol en soteer die ui en die sprietuie tot sag.
  • Voeg wonderpeper, kaneel, knoffelhuisie, groen brandrissie en gekapte vars gemmer by en braai vir nog ’n minuut.
  • Voeg bruinsuiker, rooi soetrissie, pruimtamaties en witwynasyn by.
  • Laat vir 20 tot 25 minute prut, geur na smaak en laat afkoel.
  • As jy nie tyd het om die salsa te maak nie, kan jy klaargemaakte tamatie-en-soetrissiesalsa koop.

Volgende Resep: Gevulde Pannekoek met Ham en Sampioen Vulsel