Tuis Gemaakte Biltong – Maak Jou Eie Biltong Met Die Resep

Hierdie is ‘n heerlike biltong-resep, maar dit werk meer op “gevoel” as presiese hoeveelhede. So sien jou eerste paar pogings as eksperimente tot jy jou hoeveelhede en weektye reg kry (maak ‘n nota van wat jy doen vir volgende keer). En dan hoef jy nooit meer te smag na die smaak van biltong nie!

Bestandele:

2kg Bief – bv. ‘n lendestuk, in repe gesny

1/2 Koppie Bruin Asyn (onverkrygbaar in Amerika, so ek gebruik Rooiwyn Asyn – werk pragtig)

1/4 Koppie Worcestersous

Ongeveer 1 koppie goeie kwaliteit klipsout (die groot kristalle, nie gewone tafelsout of growwe sout nie)

1/2 Koppie sagte bruinsuiker

Wit peper (na smaak)

Geskroeide, gemaalde koljander, na smaak (ek gebruik ongeveer 3 eetlepels)

Ongeveer 1 teelepel koeksoda, veral as die vleis redelik taai is

Metode:

  • Maak gaatjies in die deksels van twee klein botteltjies en gooi die asyn in een en die Worcestersous in die ander (ek gebruik sommer ‘n groterige soutpotjie en meng die asyn en Worcestersous).
  • Bestrooi die vleis met die koeksoda, peper en koljander.
  •  Strooi ‘n bietjie van die klipsout en bruin suiker in ‘n dun lagie onder in ‘n skottel of bak groot genoeg vir die vleis.
  •  Pak ‘n lagie vleis in die skottel – begin met die dikste stukke. Besprinkel met die asyn en Worcestersous en strooi weer ‘n lagie sout en suiker oor.
  •  Herhaal die lae. Maak seker jy gebruik jou speserye op so ‘n manier dat hulle op raak net met jou laaste laag vleis.
  •  Laat die vleis in die pekel lê vir 8 tot 12 ure (afhangende van hoe dik dit gesny is)
  •  Haal die vleis uit en “druk” droog met jou hande – maak seker jy verwyder al die oortollige sout en speserye.
  •  Afhangende van jou smaak, kan jy op hierdie stadium meer gemaalde koljander en/of grof gemaalde swart peper in die vleis druk, maar maak seker jy neem notas van wat jy doen sodat jy dit kan onthou en aanpas vir die toekoms.
  •  Hang jou vleis op om te droog.

Wenk:

 Ek het ‘n “biltongmasjien” gebou – baie goedkoop en eenvoudig en dit werk soos ‘n droom in enige seisoen.

Net nie groot genoeg vir ‘n hele koei nie! Ek het ‘n gewone “box fan” (daai vierkantiges) gevat, vier rakke gebou om op hom te pas – houtrame met “chicken wire” – en dan pak ek die biltong of droëwors op die rakke en hou die hele spulletjie bymekaar met bungee-rekkies.

Ek het gewoonlik binne 3 dae biltong, selfs in die somer of wanneer dit bedompig is. Nog nooit probleme met muf gehad nie.

Volgende Resep: Tuisgemaakte Droewors